"Don't Waste a Crisis": ‘n Kort Besinning oor Ekologie, Teologie en Christelike Etiek
"Don't Waste a Crisis": ‘n Kort Besinning oor Ekologie, Teologie en Christelike Etiek
Is die ekologiese krisis werklik so relevant vir Christene? Sal die probleem homself nie net maar oor tyd uitsorteer deur beter beplanning en markwerking nie? Is dit eintlik wel iets waaroor Christene bekommerd hoef te wees of selfs mag wees? In ʼn wêreld waar daar blatant met God gespot word en waar daar grootskaalse ontkerkliking plaasvind, kan dit maklik aangevoer word dat daar ander prioriteite moet wees as om oor ʼn ekologiese krisis te bekommer. In hierdie artikel word egter die teendeel geargumenteer en vir redes wat dalk nie altyd so voor die hand liggend is nie. Die ekologiese krisis roep naamlik op tot ʼn besinning wat ons gereformeerde teologie en etiek in die hart raak.
Dit is nodig om onsself weer daaraan te herinner wat bedoel word met die woord Christelike etiek. ʼn Christelike etiek is nie maar net die nastreef van ʼn goeie moraal nie. Dit is wat die ou Griekse wysgere daarvan gemaak het deur ethos in te vul met menslike aspekte, soos ʼn goeie strewe, ʼn goeie karakter, asook kennis van en ontwikkeling van die mens self. In die meer moderne Westerse filosofie is etiek geïnterpreteer as die nakom van ʼn stel reëls en die uitleef van sekere pligte of die nastreef van goeie uitkomste soos om die grootste geluk te soek vir die grootste aantal mense. In die postmodernisme word etiek gesien as iets wat afhang van elke situasie en ten sterkste deur elke persoon of groepe persone self bepaal moet word. Hierteenoor is die vertrekpunt in Christelike etiek nie in die mens self nie, maar in die persoon en werk van Christus. Etiek is ten nouste verbonde aan wie God is, wat Hy doen en waarnatoe Hy met hierdie wêreld op pad is. Etiese teorie en praktyk vorm nie, maar volg op ons beskouing oor die aard van God self, soos aan ons geopenbaar in die skepping en in die Woord.
Hoe Christene dan hulle lewens inrig is nie ʼn vryblywende keuse nie, maar een wat afhanklik is van die manier hoe ons oor God self, asook God se verhouding met mense en met Sy skepping, dink. Die argument dat ons beelddraers van God self is en as onderkonings oor die skepping aangestel is met ʼn opdrag om oor die skepping te heers, speel daarom ook ʼn deurslaggewende rol in baie Christene se etiese keuses in die gebruik van, en bewerking van die aarde.
In die moderne kulturele konteks van individuele menslike vryhede en regte, ʼn sterk vrye-markgedrewe ekonomiese bestel en duiselingwekkende wetenskaplike en tegnologiese prestasies, het hierdie model van Christelike bestuur of rentmeesterskap vrae begin oproep. Opeens is daar ʼn ander realisering wat begin deursyfer. Die filosofiese en kulturele konteks van die ‘vrye mens’ het inderdaad baie uit armoede gehelp en meer mense gevoed as in baie ander tye in die wêreld se geskiedenis, maar gaan ook gepaard met lang skadu’s van, onder andere, enorme welvaartsongelykheid en groot skade aan die natuur. Een van die sorgwekkende uitkomste van die wêreldwye sosio-ekonomiese transformasie van die tyd ná die industriële rewolusie is wat bekend staan as die ekologiese krisis.
Dit is juis dan die sentrale plek wat die mens inneem in die skeppingsverhaal asook die gedagte dat mense na die beeld van God gemaak is, wat deur – volgens skrywers, soos Lynn White Jr – tekenend is van ʼn dualisme tussen mens en natuur en wat as die bron van die ekologiese krisis gesien moet word. Die Christendom word geblameer vir haar enorme aandeel in die ontstaan van die mensgerigte Westerse wêreldvisie wat ten koste van die natuur gegaan het en nog steeds gaan. Die enigste oplossing, word geargumenteer, is ʼn alternatiewe Christendom.
Die ekologiese krisis roep by Christene heelwat verskillende reaksies op. In ʼn onlangse studie oor die beskouinge van Christene in die VSA oor een aspek van die ekologiese krisis, naamlik oor die bewaring van biodiversiteit, was daar sulke uiteenlopende gedagtes dat dít op sigself al roep tot ʼn diep besinning. Ten eerste is daar diegene wat hulle beroep op die Bybel om ʼn goeie antwoord te vind op die ekologiese krisis. Tweedens, is daar ʼn groep wat skepties staan teenoor die wetenskap van bewaringsekologie as sulks. Derdens is daar ʼn groep wat prioriteite stel aan ander morele sake soos om siele te wen en dit teenoor die persepsie stel dat Jesus nie gekom het om die natuur te red nie. Vierdens is daar ʼn groep wat heeltemal onverskillig staan teenoor die bewaring van biodiversiteit. Die feit is dat die kultuur van die Christendom gemengde boodskappe uitstuur; dit is dan ook geen wonder dat Christene dikwels gesien word as deel van die probleem. Pogings om die Bybel te interpreteer in die lig van die ekologiese krisis word dan ook dikwels met groot argwaan bejeën, nie net deur nie-Christene, maar ook deur baie Christene self.
Wat is dan die redes waarom die ekologiese krisis so ʼn groot probleem vir baie Christene is? Ek wil drie redes noem. Eerstens, ekologiese bewuswording word soms geassosieer met die ‘New Age’ spiritualiteit en selfs met ʼn heidense verering van die natuur. Tweedens, die ekologiese krisis roep vrae op oor die vryhede van die mens deur onder andere vraagtekens te plaas by die dogmatiese aanvaarding van die vrye mark en private eiendom en by ʼn optimistiese siening oor wetenskap en tegnologie om die ekologiese krisis op te los. Derdens, ekologie word gesien as iets wat slegs materieel en dus van mindere waarde vir Christene is, wie se fokus eerder moet wees op die behoud van siele en ʼn leefbare, regverdige bedeling hier en nou, maar veral ʼn fokus op ʼn hemelse toekoms los van ʼn sondige aarde vol van ellende en kwellings.
Ek sal wil aanvoer dat hierdie redes gebou is op valse teenstellings en op nie-Christelike wortels. Die teenstelling tussen ʼn verkeerde, materiële wêreld en ʼn goeie, spirituele wêreld is ʼn heidense filosofie en stam regstreeks van Plato af. Inteendeel, die verkeerde is nie ons liggame, die natuur en die materiële terwyl die goeie iets spiritueel of hemels is nie, maar die verkeerde is, sedert die sondeval, in die mens self met ʼn gepaardgaande vloek oor die skepping. Die sonde leef in ons hart terwyl die skepping ook daaronder ly, en is nie iets aparts buite ons om nie. Christus se verlossingswerk maak egter alles weer nuut en bied weer ʼn nuwe, bevrydende perspektief. Verder, die gedagte dat God in die natuur is en daardeur die natuur self heilig is en vereer moet word, is ook on-Bybels.
Die gedagte dat die mens se vryhede aan bande gelê kan word deur die ekologiese krisis, is dalk die diepste verweef in die kultuur van die Christendom, veral in die VSA, maar toenemend ook wêreldwyd. Met ʼn appèl op Christelike vryhede en ʼn radikale interpretasie van wat vrye genade is, asook ʼn lang geskiedenis van humanisme in die moderne kultuur, is dit moeilik om so ʼn Christelike etiese perspektief los te skeur van hierdie moderne visie op vryheid wat al van die Verligting af saamkom. Augustinus het eens die wyse woorde gespreek dat die menslike vrye wil alleen per grasie is van God se wil, wat in Sy onvoorwaardelike liefde na ons toe gebring is. Vryheid is alleen eg as dit in Christus is, iets wat sekerlik nie vir elke marktransaksie, elke optrede op private eiendom en elke uitkoms van demokratiese beslissings geargumenteer kan word nie. Dit op sigself is nie ʼn argument vir ʼn ander sosiaal-ekonomiese bestel nie, maar wel een vir die voortdurende toets van ons huidige bestel aan die hand van God se openbaring.
Hoe word daardie openbaring van God in die skepping en in sy Woord gelees? Watter teologie handhaaf ons in ʼn beoordeling van ʼn wêreldomvattende probleem soos die ekologiese krisis? Dit is ʼn baie groot onderwerp en ek deel hier alleen ʼn paar gedagtes oor sekere persepsies wat heers oor God se verhouding met die skepping. Verskeie variasies is hierby denkbaar, maar ek probeer net om die groter lyne te skets.
Een siening is dat alles nou al in Hom is, ʼn soort van ‘kosmiese Jesus’, ʼn siening wat onder andere sterk tot uiting kom in die Christelike mistiek. In hierdie siening is heiligheid dus orals in die skepping te sien. Die natuur as sulks word nie as verkeerd of sondig gesien nie, maar slegs die verkeerde wil van die skepsels wat hierin leef.
ʼn Ander siening is dat God ver verwyderd is van sy skepping en Hom nie werklik persoonlik met mense en/of die skepping bemoei nie. In hierdie siening word die skepping gou opgevat as iets materieel, iets los van God, en iets wat nie werklik geassosieer kan word met God se deurlopende liefde nie.
ʼn Derde siening, en een wat nader is aan wat gereformeerdes bely, is dat Jesus as opgestane Here, nou alreeds besig is met die wedergeboorte van mense en Sy skepping hier op aarde. God se Koninkryk is nie iets ver in die toekoms nie, maar het nou al reeds begin en sal op die jongste dag tot voleinding kom. Alles is nie nou al in God nie, maar daar is ʼn reformerende spanning tussen wat Jesus alreeds oorwin het en wat nog gaan kom. Daardie spanning word deur die werk van die Heilige Gees in die hele skepping lewend gehou en transformeer Christene tot lewende briewe van Christus. Die mens en skepping staan nou al in ʼn lewende band met God, heelgemaak deur die verlossende werk van Christus, en deur die werk van die Heilige Gees aangevuur in ʼn vaste hoop vir ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde. In hierdie tyd van vernuwing bly God die Heer oor die skepping, maar is nooit self volledig in die skepping nie.
Skepping, sonde, verlossing, ʼn dankbare, reformerende lewe en voleinding is nie konsepte wat los van mekaar staan nie, maar onderafdelings van God se almagtige leiding in ʼn kosmies omvattende geskiedenis. Selfs die Woord was al daar voor die Skepping; die Woord wat mens geword het. Hierdie Woord is God se eie openbaring en verhoed dat konsepte soos skepping, sonde, verlossing, dankbaarheid en voleinding van mekaar losgeskeur word in ʼn etiese besinning. As alleen die skepping as openbaring van God gesien word, iets bv. waar die ordelikheid van God aan afgelees kan word en iets wat verkry word deur deeglike ondersoek van die natuur, kan dit maklik tot ʼn vervlakking van die Woord lei. ʼn Etiek geskoei op die orde en strukture in die skepping alleen kan gou verval in ʼn oordrewe beklemtoning van natuurlike wetmatigheid, sonder om die Woord as norm vir die hele kosmos te aanvaar. Aan die ander kant, ʼn etiek geskoei op die verwerkliking van Christus nou al in alles, ʼn etiek van ʼn inherente heiligheid, kan gou verval in die beklemtoning van ʼn situasiegedrewe etiek van mistieke liefde. Dit is ʼn etiek wat die radikale deurwerking van die sonde in onsself, in die kerk, in ons kultuur en in die samelewing onderskat. Hoe so ʼn Christelike etiek dan wel moet lyk, roep baie vrae op, maar die vertrekpunt is wel duidelik, naamlik dat ʼn Christelike etiek, ook ten opsigte van die ekologie, begin by, en alleen moontlik gemaak is deur, die persoon en werk van Jesus Christus en implikasies het vir die hele geskape werklikheid, vir mens en skepping.
Die ekologiese krisis roep weer vrae op in ons teologiese en etiese beskouing wat veel verder en dieper strek as slegs die respek vir en handhawing van strukture en orde in die natuur, bepaling van ʼn goeie moraal of die uitwerk van ʼn stel nuwe reëls vir die behoud van die omgewing. Opeens staan vrae oor die herwinning van afval, die uitstoot van koolstofgasse en die pogings om vleilande te bewaar van oprukkende mynaktiwiteite in ʼn ander lig. In vaste hoop op ʼn nuwe hemel en nuwe aarde, gevorm deur die transformerende werk van die Heilige Gees, mag ons aan die werk gaan. Daar is praktiese reëls en afsprake om te maak wat uiting gee aan wyse bestuur van die skepping, maar intussen kan ons die geleentheid om die ekologiese krisis te gebruik as besinningsmoment nie verlore laat gaan nie.
Die gesegde “don’t waste a crisis” word meestal in ʼn politiese of ekonomiese konteks gebruik, maar dit begin nou opeens ʼn hele nuwe lewensbeskoulike dimensie aanneem. God gee goeie tye en slegte tye, voorspoed en krisis, alles met ʼn doel ten goede. Miskien is hierdie krisis ʼn geleentheid vir Christene om (weereens) diep te besin oor ons teologie, ons denke oor die aard van God, en die etiek wat daaruit voortvloei. Die Gereformeerde tradisie bevat ʼn groot rykdom oor God se kosmiese plan, die sentrale rol wat die opstanding van Christus daarin speel en die lewende hoop wat hierdeur moontlik gemaak is.
Mag die ekologiese krisis ons weer dwing om deur die bril van die Skrif, om Calvyn se parafrase te gebruik, weer na die skepping as ryke bron van God se openbaring te begin kyk. Dan is ook hierdie krisis nie verniet nie.