Stilte Dood Gepraat
Stilte Dood Gepraat
Met die formering van Eva het die tweede tafel van die wet gekom – man tot mannin, mens tot mens. Die tweede tafel van die liefde rus in die eerste: God se bestaan en sy liefdeseis tot Homself. God spreek die mens in die paradys deur sy Woord aan. Na die sondeval kán God die mens doodswyg. Met die oordeelsdag sál Hy die ongeloof doodpraat. In Christus swyg God nie. Sy Woord is openbaring. Sy stem is sy beeld – sigbaar, hoorbaar. Sy Woord is die saad wat aan die kerkmens geboorte gee. Daarom is die kerk ‘n pratende kerk. Die Woord is openbaring en werk openbarend.
Mag die kerk swyg as God praat? Mag die kerk oor God swyg? Mag die kerk doodpraat?
Doodswyg⤒🔗
Daar is meer as ooit behoefte in gereformeerde kerke dat ons met mekaar praat. Daarvoor moet die stilte verbreek word. Hoe het die stilte in die kerk gekom? Wat is die klanklose liefde tans? Die vrae sal verskillend beantwoord word. Vir sommige is dit ‘n selfbeheerste stilte, vir ander ’n woedende een en vir nog ander ‘n lui windstilte. Hoeveel groepe en groeperings nou ook al in die kerk – wederregtelik – onderskei kan word, ons moet die geroep op die dak hoor. Die kerk is gemaak om te praat. Ons stilte teenoor mekaar is koue kerkmoord. Dit skep afstand. Dit sondig teen die liefde wat afstand oorbrug. Die stilte is ‘n aanslag op die Woord self.
Praat móét ons praat, anders is ons menswees in gedrang. ‘n Mens leef uit die klank van die Woord. Is die geloof dan nie meer uit die gehoor nie? ‘n Kerkmens se medemenslikheid is tog niks anders as die weerklank van die Woord nie.
Laat ons tog weer oor die hermeneutiek van die Skrif praat. Erken die primaat van die Woord. As Christus ons nie los nie, hoe kan ons mekaar dan los? “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. Aan hom wat oorwin...” (Openbaring 3:20-21). Christus het die hel se stilte oorwin. Ons deel in sy oorwinning. Laat ons ook die stilte tussen ons oorwin. Durf die een sonder die ander by Christus aankom? Swyg nie langer nie, broeders en susters – of het ons dan niks gehoor nie?
Doodpraat←⤒🔗
Die Woord kom eerste. As ek saam met God begin praat, Hom in sý rederaad val, dan begin ek die kerk ook doodpraat; dan is die orde weg – ‘n kakofonie van demokrasie wat stem en stem, met die hande en nie met die tong nie.
Is dit nie wat Wayne Meeks ons leer nie? Om saam met God te praat? Om betekenis aan sy Woord toe te ken, asof ‘n mens die waarde van die Christus vanself kan ken en toeken? Ons woorde is nie die Woord nie; dit is nie eers interpretasies van die Woord nie. Of is dit waar dat gesê word dat aan woorde betekenis toegeken word, met die implikasie dat die kerk betekenis aan Christus toeken?
Wie het eerste gepraat – God of die mens? As jou hermeneutiese model, jou taalteorie, sê dit was eerste die mens – wat leer jy die kerk praat? Die kerk kan ook uit sy beurt praat. Die kerk mag nooit eerste praat nie. Daaroor mag ons nie swyg nie.
Moet dit nie doodpraat as gesê word dat daar iets radikaal verkeerd is met die verstaan van die Woord wat huidig in die kerk gebesig word nie. Dit verdring die primaat van die Woord, wat eerste was, voor menslike klanke daar was. Laat ons dit uitmaak of die Woord – in Homself – betekenis het, as die Seun van God; dat tale hulle betekenis slegs aan Hom te danke het. Die Woord lewe.
Die Woord was in die begin. Die Woord het voorrang – ook in die hermeneutiek. Heel in die begin – voor die stilte in die kerk, voor die doodpraat in die kerk, was die Woord reeds daar. Swyg, soos Job, voor God en nie oor God nie. Laat ons tog praat, want God het in sy Woord gepraat.